Saakashwili het trouens aan die Washington Post gesê dat hy heeltemal alleengelaat voel. "Toe Georgië aangeval is, moes ons onsself afvra: Aan wie se kant is die Weste, as hulle nie aan ons kant is nie?" het hy beskuldigend gesê. In antwoord daarop het Duitsland se minister van buitelandse sake, Frank-Walter Steinmeier, dit duidelik gemaak dat net 'n besonne politieke koers 'n krisis in die Kaukasus kan verhoed en die gebied kan stabiliseer.
In 'n meningspeiling in die Duitse koerant Die Welt stem die meerderheid teen Georgië wat hulle vir die inval verantwoordelik hou en nie teen Rusland nie. Saakashwili se Amerikaanse sikofansie tel kennelik teen hom by sy nadere bure, ten spyte daarvan dat hy Georgië graag as 'n oer-Europese land beskryf.
'n Franse onderhandelaar in Sarkozy se span sê Saakashwili het poker gespeel "en verloor". Indien 'n mens in gedagte hou dat Frankryk tot die einde van die jaar in die EU-presidentstoel sit, maak dit dié mededeling nog meer betekenisvol. Nick Grono van die International Crisis Group in Brussel toon selfs minder simpatie. Omdat die Georgiese president homself so "misreken" het, het hy die "toestand drasties laat versleg", sê hy.
Die president is nie iemand wat sy woorde graag tel nie. Sy inhuldigingstoespraak in 2004 is deur Amnesty Internationaal gekritiseer omdat hy die justisieminister aangespoor het om met alle geweld teen teenstanders op te tree en "hulle voor die voet te skiet en te vernietig" Hy het bygelas "dat geen koeëls gespaar sal word vir hierdie mense nie".
'n Nuwe mediawet wat in 2004 aangekondig is het 'n aantal prominente Georgiese skrywers genoop om 'n ope brief aan Saakashwili te rig waarin hulle die "intoleransie teenoor mense met ander opinies betreur wat in Georgiese politiek en ander sosiale sfere ingedring het" sedert hy aan die stuur van sake is.
Maar die president het sy volgelinge ook. Sy Nederlandse vrou, Sandra Roelofs, en Angela Merkel wat eersdaags samesprekinge met hom sal voer. En natuurlik die VSA omdat hy Georgiese troepegetalle na Irak verdubbel het. Dieselfde geld vir Georgiese soldate in Kosowo en Afghanistan wat steeds bly om "globale veiligheid" te verseker.
In 2004 het Sakaashwili Israel genooi na die opening van die moderne Energienavorsingsentrum en dr Brenda Schaffer, direkteur, het na die president in gloeiende terme as "die Nelson Mandela van die 21ste eeu" verwys.

Dat die veertigjarige Georgiese president sy hand oorspeel het, is seker. Die Russiese ambassadeur in Berlyn, Wladimir Kotenef, het die arme Mikeil Saakashwili met hoon belaai en noem die aktivis van die Roserewolusie 'n "akteur" wat aan "grootheidswaan" ly. Die Russiese poniekoerant Pravda het onlangs 'n artikel die lig laat sien onder die titel "'n Ander Georgië wat aanstons op die VSA se kaart sal verskyn" met verwysing na die deelstaat in die Vereenigde State met dieselfde naam.