Ons weet almal dat veral die koolstofdioksied wat mense vrystel ‘n probleem gaan veroorsaak, want Al Gore en wetenskaplikes sê immers so. Kortbroek-hulle wil plaaslik ‘n koolstofbelasting in die lewe roep.
Wel, nee. Ons wéét dit glad nie. Wetenskaplikes ráái dat dit so kan wees.
Die hele sogenaamde feitestel berus nie op gemete waarhede, die feite of die “waarheid” nie, maar op ‘n rekenaarmodel. Een wat voorspel dat verhoogde vrystellings van CO2 tot gevolg gaan hê dat die aarde warmer gaan word. ‘n Hele industrie, indien nie ‘n hele religie nie, berus op ‘n rekenaarmodel. 'n Raaiskoot, met ander woorde, gebou op veelvuldige skattings, aannames en onsekerhede.
Om bostaande sonder voorbehoud te glo, is soos om vir jou nuwe naskeermiddel te gaan koop, en dan te verwag dat jy vanaand definitief ‘n gelukkie gaan tref, omdat die naskeermiddel gaan maak dat die dames in die kroeg jou onweerstaanbaar gaan vind. Gebeur dit wel, gaan jy waarskynlik summier aanvaar jou model was akkuraat, dat die korrelasie tussen jou sukses met die dames en die nuwe naskeermiddel wel bestaan. Daar kon egter heelwat ander verklarings wees. Een is dat die dame bloot baie dronk en baie desperaat was…
Insgelyks kan daar vele verklarings wees vir die verwarming van die aarde benewens ons vrystelling van CO2. Die aarde is lank reeds besig om warmer te word, duisende jare voordat ons motors of fabrieke gehad het. Tienduisende jare gelede was bykans die ganse Noord-Amerika een groot ysplaat. Die Groot Meregebied tussen Kanada en die VSA, asook Long Island, is oorblyfsels van hierdie gletsers en ysmassa.
CO2 is voorts nie ‘n vreeslike goeie kweekhuisgas nie. Daar is veel meer effektiewes, soos metaan. Dis nie net mense wat nare gasse vrystel nie, maar ook natuurlike prosesse soos vulkane. In 1816, tydens die Nywerheidsrewolusie, juis toe mense op groot skaal begin het om kweekhuisgasse vry te stel, was daar bykans geen somer in Europa nie. Dit was die ganse jaar koud. Oeste het misluk en mense het van die honger omgekom.
Die rede was ‘n vulkaniese uitbarsting in die hedendaagse Indonesië, wat soveel gas en vulkaniese as vrygestel het dat die son se gemiddelde energie op grondvlak daardie jaar laer as gewoonlik.
Almal weet die CO2-vlakke is tans op hulle hoogste ooit, nie waar nie? Nee. Wat Al Gore-hulle jou nie vertel nie, is dat die CO2-vlakke vroeg in die 20ste eeu onverklaarbaar hoër was as vandag.
Tydens die Middeleeue was daar ‘n tydperk waar die klimaat veel warmer was as tydens die twintigste eeu. Daar was geen motors of fabrieke destyds nie.
Die smelt van die pole is noodwendig onnatuurlik en mensgemaak, nie waar nie? Nee, glad nie. Tydens die era van die dinosourusse was daar glad geen ys op die pole nie, selfs nie eers in Antarktika nie.
Die hele histerie, die ganse treurverhaal oor aardverwarming, berus nie op bewyse nie. Dit berus op verskeie wetenskaplikes se rekenaarmodelle. Daardie modelle maak staat op ‘n hipotese, naamlik ‘n korrelasie tussen aardverwarming en die mens se vrystelling van CO2. Dit ignoreer onder andere die verwarming van die afgelope 10 000 jaar, vanaf die laaste ystydperk.
Soos met baie ander dinge is dit deesdae egter bykans kettery om die akkuraatheid van die model in twyfel te trek. Net soos jy eenvoudig nie mag vra of daar ‘n korrelasie tussen IK en ras is nie, mag jy nie vra of die bogenoemde model en sy aannames akkuraat is nie. Al Gore, Kortbroek, die bouers van kernreaktore en die groen fanatici sal vir jou lewendig afslag.
