Afrikaners behoort almal na Weskus te trek

Ek wil die redaksie van Praag gelukwens met die hoofartikel 'n week gelede, Olieprys skep ook politieke vrae vir Afrikaners, want dit is myns insiens een van die belangrikste stellings wat nog hier gemaak is.

Laat ons nou nie toelaat dat dit by die een oor in en by die ander oor uitgaan nie.  Laat ons 'n gesonde debat voer oor die onderwerp.

Net soos die Jode, wat yl verspreid oor die hele aardbol woon, is die Afrikanervolk ook yl verspreid oor die grootste deel van Suider-Afrika.

Ons leuse van "Eendrag Maak Mag" kan nooit tot sy reg kom as dit so aangaan nie.

Ons moet, soos dr Dan Roodt sê, nader aan mekaar beweeg.  Dit kan nie, en sal ook nie, oornag gebeur nie, maar laat ons minstens 'n begin maak.

Indien 'n mens die demografie van Suid-Afrika in die oppervlakte van die land sou indeel, kry jy so plus minus 60 000 vk km wat aan die Afrikaner/Boerevolk toekom.

Ek besef dat die meerderheid Afrikaners sal nou onmiddellik protesteer en sê ons verdien meer as 5% van die land se oppervlakte, maar mense, besef julle nie dat 'n halwe eier beter as 'n leë dop is nie?!!!  Ons kan aan die ANC, en aan die wêreld daar buite sê:"Ons eis MINSTENS 60 000 vk km., maar ons veg vir veel meer, omdat ons méér as dit verdien."  Die motivering kan later in detail uitgespel word, waarom ons meer verdien, maar die punt wat ek wil maak, is dat ons minstens op 'n minimum van 60 000 vk km moet voet by stuk hou, omdat dit "demokraties" geregverdig is.

Oor die ligging van daardie 60 000 vk km kan (en MOET) daar nog lank oor geredeneer word.  Histories behoort die Wes-Kaap gesamentlik aan die bruinmense en die Afrikaner.  Die Voortrekkers het Noord-Natal Wettiglik van die Zoeloevolk gekoop.  Die Vrystaat en die ZAR was internasionaal erken as soewereine Boere republieke.  En so kan ons aangaan.  Elke individu het sy/haar eie voorwaardes en definisies van watter grond aan die Boerevolk behoort.

Die feit is egter dat demografie nog altyd die Afrikaner se grootste vyand was.  Ons kan sê Gauteng behoort aan ons, of Noord-Natal, of watter deel van die land ook al, maar as daar in Natal 10 miljoen swartes is, teenoor 300 000 Afrikaners, dan is die demografie verkeerd, en beteken historiese of sentimentele oorwegings NIKS.

In die lig daarvan, sou die Karoo ons beste keuse wees.  Of dit nou 'n gewilde besluit gaan wees of nie, in die Karoo is die demografie aan die Afrikaner se kant.

Indien 'n gebied afgebaken word wat van die Weskus tot by Orania strek, wat 'n breedte van 100 km het, kom 'n mens min of meer by 'n sommetjie van 60 000 vk km uit.  So 'n gebied sal dan oor 3 baie belangrike eienskappe beskik: 'n gunstige demografie, 'n kuslyn, en 'n varswaterbron – die Oranjerivier.

As mens 'n reguitlyn van Orania af tot by die Olifantsriviermond sou trek, sal die R63-teerpad min of meer die gebied se ruggraad vorm.  Die enigste stukkie pad wat nog nie geteer is nie, is die twee bergpasse tussen Vosburg en Carnarvon.  'n Afstand van sowat 100 km.

Afrikaners wat elders in Suid-Afrika woon, behoort hulle in groot getalle in daardie gebied te vestig.  Sowat 50 km na weerskante van die teerpad, van Orania tot by Strandfontein, moet as Afrikanergebied verklaar word, en moet fisies deur volkstaatgesinde Afrikaners beset word.  Die volgende dorpe is ter sprake: Strandfontein, Vredendal, Lutzville, Koekenaap, Klawer, Vanrhynsdorp, Nieuwoudtville, Calvinia, Williston, Carnarvon, Vosburg, Britstown, Strydenburg, Hopetown en Orania.  Dit is ons enigste redding!!!

'n Ander gebied wat oorweeg kan word, is die Tuinroete.  Mosselbaai en Jeffreysbaai is tradisioneel die twee belangrikste Afrikaner-vakansieoorde, en daar woon ook reeds baie Afrikaners.  Ongelukkig woon daar net soveel swartes en bruinmense in daardie streek, wat dit demografies moeilik maak.

Die Xhosa het eintlik geen regte in daardie gebied nie, aangesien die Afrikaner en die Xhosa mekaar eers in 1771 by die Gamtoosrivier (oos van Jeffreysbaai) ontmoet het.  Wes van die Gamtoos is Afrikaner en Kleurlinggebied.  Die Breederivier kan as wesgrens van 'n Afrikanergebied beskou word.  Die kus is die natuurlike suidgrens, en die N1-pad by Touwsrivier tot by Hanover kan die noordgrens vorm.  'n Kleiner gebied, wat slegs tot by die berge strek, sal ook aanvaarbaar wees.  Dit sluit distrikte soos Ladismith, Oudtshoorn, Willowmore, en Graaff-Reinet in, terwyl die plat wêreld van die Groot Karoo dan uigesny word.  Op George is 'n groot lughawe wat tot 'n Internasionale lughawe ontwikkel kan word.  Oudtshoorn, waar die Nasionale Kunstefeeste gehou word, is in die middel van die gebied.  Mosselbaai, Suid-Afrika se belangrikste Afrikaner-vakansieoord, is daar naby.  Knysna, wat 'n internasionaal bekende toeristeparadys is, is daar naby.  Swellendam, wat een van die eerste Boere-republieke was, is daar naby.  Die Langkloof, wat die land se grootste produsent van appels is, is daar naby.  Jeffreysbaai, waar reeds duisende Afrikaners gevestig is, en wat wêreldbekend is vir sy branderplankryers, is daar naby.

Die gebied tussen die Breederivier en die Gamtoosrivier, het dus geweldig baie pluspunte, maar daar is derduisende volksvreemdes wat die gebied met ons mense deel.

Die derde keuse is die gebied tussen Pretoria en Nelspruit.  Ek is nie goed bekend met daardie streek nie, en weet dus nie wat al die voor- en nadele is nie.  Dr Roodt sal beter kan oordeel oor daardie gebied.  Wat ek wel weet, is dat die Hoëveld geweldig baie swartes het, en na my persoonlike mening onaanvaarbaar is.  Maar, dit is Suid-Afrika se rykste streek.

Navorsing wat deur dr Willem van Heerden van Morgenzon gemaak is, toon dat die gebied tussen Welkom en Nelspruit (die gebied loop in 'n halfmaan van Welkom, oor Standerton, Ermelo, tot by Lydenburg)  ons land se rykste streek is.  Van landbouprodukte, mynbou, elektrisiteit, tot steenkool is volop in daardie streek.  (Ek het met die tong in die kies vir dr Van Heerden gesê:"Willem, daar is nog iets wat hierdie 'Hartland' van jou die meeste het, dis swartes!")  Ons wat in Kaapland gewoon het, ken die Kleurlinge, maar die miljoene swartes wat mens in die noordelike provinsies teëkom, ken ons nie in die westelike deel van die land nie.

Maar, die Gautengers en die mense van Mpumalanga moet self hul gebied propageer, en motiveer waarom hulle dink dit is die beste plek vir 'n volkstaat.  Ek beveel aan dat lesers dr Willem van Heerden se boekie, "Hartland van die Afrikaner" sal lees.  Lees ook "Afrikanerland – 'n Gebiedsaanduiding", deur Bruwer, Verwoerd, Van den Berg, Van Heerden en Fischer.  In laasgenoemde boekie word Richardsbaai, Utrecht en Vryheid by die Welkom-Nelspruit-gebied bygevoeg, om sodoende 'n stukkie kusgebied in te sluit.

Elke keer wanneer 'n Afrikaner vermoor, verkrag, gemartel en getraumatiseer word, moet ons die familie en vriende van die slagoffers bearbei en versoek om dit te oorweeg om na 'n gebied e verhuis waar dit veiliger is.  In die proses sal ons mense begin konsolideer en in groter getalle nader aan mekaar beweeg.

Ek sê weer, die woestyn is 'n ongewilde keuse, maar dit is die veiligste plek om te wees in tye van oorlog, geweld en misdaad.  Maak die Weskus en die Karoo u keuse.  Kies reg! Stem Weskus!

недорогие печи для баниОлександр Васильович Фільчаков

Maak 'n opvolg-bydrae