Terwyl daar toenemende internasionale kommer heers oor stygende voedselpryse wat ook negatief deur die hemelhoë olieprys beïnvloed word, is die ANC-regering besig om die landbou as ‘n proefkonyn te sien vir kwasi-kommunistiese eksperimente in kollektiewe eienaarskap en “sosiale geregtigheid”.
Ongeag die mislukking van “grondhervorming” in Zimbabwe, gaan dié beleid in Suid-Afrika toegepas word met die summiere onteiening van landbougrond wat deur die nuwe onteieningswet moontlik gemaak word.
Suid-Afrikaanse voedselpryse styg reeds vinniger as die algemene inflasiekoers met vele boere wat bankrot speel vanweë stygende insetkoste. Die winsaandeel van supermarkte in die voedselketting is egter besig om te styg terwyl dié van die produsente daal.
In sy onverantwoordelike omgang met een van die mees basiese behoeftes van enige land en sy bevolking – voedselsekerheid – toon die ANC dat hy steeds vasklou aan sy Afro-revolusionêre beginsels en dat die gematigde politieke masker wat hy aan die media en aan die buiteland voorhou, net oëverblindery is. Mbeki is van dieselfde stoffasie as ‘n Mugabe, ‘n Mengistu of ‘n Machel gemaak en sal sy eie bevolking laat verhonger ten einde sy revolusiegod te behaag.
Soos ons reeds voorheen in dié ruimte geargumenteer het, sal die Afrikaner sy eie noodplan moet opstel om ons mense te kan kos gee indien regeringsbeleid tot sy onvermydelike resultaat van grootskaalse voedseltekorte en -inflasie lei.
