Die hooggeregshof in Pretoria het ‘n aansoek om staatsregshulp vir die slagoffers van die Marikana-skietery van die hand gewys.
“Ek stem saam met die staat dat die aansoek nie kan slaag nie,” het Regter Joseph Raulinga gister gesê.
“Ek kan ook benadruk dat niks verhoed dat die partye die saak buite die hof skik nie.”
Dali Mpofu, wat die Marikana-mynwerkers by die verhore van die Farlam Kommissie van Ondersoek verteenwoordig, het die aansoek om staatsbefondsing van die mynwerkers se regspan gebring.
Mynwerkers en hul families het die beslissing deur Raulinga met ‘n gemor begroet.
Die regter het gesê hy kan die bevel toestaan slegs indien daar ‘n bewys van wederregtelikheid, bedrog of korrupsie ter sprake is.
“Ek vind dit nie in hierdie geval nie.”
Dit is die voorreg van die uitvoerende gesag om te besluit hoe kommissies befonds sal word, het hy gesê.
Maandag het Mpofu voorlopig onttrek uit die ondersoek hangende die uitslag van die Hooggeregshof-aansoek.
Twee ander partye wat deel vorm aan die kommissie – die Legal Resources Centre en die families van die gestorwe mynwerkers – het ook voorlopig onttrek.
