Vier wildstropers in Pongola vas

Die Valke het vier vermeende wildstropers op Pongola in KwaZulu-Natal vasgetrek. ‘n Woordvoerder, Paul Ramoloko, sê die verdagtes is onkant gevang deur die weer en kon nie hulle planne uitvoer nie.

Hy sê twee is Mosambiekse burgers en die ander twee Suid-Afrikaners. Hulle is by die Pongola-wildreservaat aangekeer.

Ramoloko sê die mans was in besit van ‘n jaggeweer, patrone en twee knaldempers. Hy sê hulle soek nou na nog vermeende stropers in die gebied.

Die mans sal na verwagting vandag in die landdroshof op Ubombo verskyn. Hulle staan tereg op aanklagte van die besit van ‘n ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie.

Die vuurwapen sal vir ballistiese toetse gestuur word om vas te stel of dit met enige ander sake van renosterstropery verbind kan word.

Maak 'n opvolg-bydrae