Shuttleworth se aansoek misluk

Die miljardêrsakeman, Mark Shuttleworth, se poging om die land se hele valutabeheerstelsel as ongrondwetlik verklaar te kry, het misluk.

Die Suid-Gautengse Hooggeregshof in Johannesburg het Shuttleworth se aansoek om die hele deel 9 van die wet op Wisselkoerse en Valutabeheer en al die beheerregulasies te skrap, as ongrondwetlik verwerp.

Regter Francis Legodi het Shuttleworth se aansoek van die hand gewys dat die heffing van R250 miljoen wat hy moes betaal om van sy bates uit die land te neem, aan hom terugbetaal word.

Die hof het ook sy aansoek van die hand gewys om die Reserwebank se beleid ongeldig te verklaar om nie regstreeks met lede van die publiek sake te doen nie, maar daarop aan te dring om deur bankhandelaars te kommunikeer.

Shuttleworth wat nou op die eiland Man woon, het die bestaande stelsel van valutabeheer in Suid-Afrika die skuld gegee omdat dit hom gedwing het om in 2001 uit Suid-Afrika te emigreer.

Hy het destyds bates van meer as R4,7miljard in die land gehad. Hy het egter die bates in 2008 en 2009 uit die land geneem, en elke keer moes hy ‘n tien persent heffing opdok.

Die regering het die heffing afgeskaf ‘n jaar nadat Shuttleworth die oorblywende deel van sy bates uit die land verskuif het.

Maak 'n opvolg-bydrae