Trevor Manuel, minister in die presidensie, het gesê ANC-lede moet introspeksie hou oor hoekom daar ‘n gaping tussen hulle en die land se inwoners is, het die Cape Times Donderdag berig.
“Dit is fundamenteel belangrik dat ons dit verstaan. Blameer ons die mense of blameer ons onsself? Vra ons hoe ons so verwyderd geraak het van ons mense?” het Manuel Woensdagaand op ‘n gedenklesing in Kaapstad gevra.
Manuel het gesê ANC-lede moet betrokke raak in hul gemeenskappe en ‘n ledegemeenskap bou wat die party se waardes verstaan.
Hy het gesê hoop moet ingeboesem word by die jeug en ouer mense, wat aan die opstande deelgeneem het en hulle moet nie vergeet word nie.
“Ons moet geloof in onsself uitbou. Ons moet terugkeer na ons mense.”
