Oudpres. Nelson Mandela se goeie vriend, George Bizos, het besluit om hom nie by die hospitaal in Pretoria te besoek waar hy behandel word nie, het The Star Dinsdag berig.
Bizos het aan die koerant gesê hy het Saterdag ‘n oproep van Mandela se vrou, Graca Machel, ontvang.
“Sy het vir my gesê hy doen nie goed nie, en ek aanvaar dit so,” het hy gesê.
Bizos het gesê hy het besluit om die 94-jarige Mandela liewer nie te besoek nie.
“Ek het die dokter se versoek om nie te veel besoekers in te laat nie, gerespekteer,” het hy gesê.
“Nie een van ons leef vir ewig nie. Ons moet hom laat leef so lank as moontlik.”
Mandela is op 8 Junie in die Medi-Clinic-harthospitaal in Pretoria opgeneem. Mac Maharaj, woordvoerder vir die presidensie, het Sondagaand gesê die voormalige staatshoof se toestand het kritiek geword.
Bizos het aan The Star gesê hy het Mandela ongeveer ‘n maand gelede gesien.
“Hy het redelik goed gedoen. Hy het my herken en ons het oor die ou dae gesels.”
Mandela se kinders het begin met ‘n hofgeding om George Bizos te verwyder as direkteur van twee van die oud-staatshoof se maatskappye.
