Julius Malema beweer dat senior leiers in die ANC hulle gewig by sy nuwe party ingegooi het, het EWN berig. Malema het Sondag op Radio 702/567 CapeTalk se Talk at Nine gesê senior lede van die ANC help hom.
Malema het glo gesê dié leiers sal na vore tree wanneer die tyd reg is. Hy het vroeër die maand bevestig dat hy sy eie politieke party, die Economic Freedom Fighters, wil stig.
Sy beweging sal onder meer vra vir die onteiening van grond sonder vergoeding, asook die nasionalisering van myne.
“Party van hulle gebruik tans die strategie om ons te beledig sodat hulle beskerm kan word en sodat dit lyk of hulle nie deel is van ons nie.”
Hy het gesê dié lede sal later openlik oor hulle besluit praat.
“Aan die einde, wanneer alles afgehandel is, kan hulle uitkom en openlik sê hierdie is wie hulle ondersteun.”
