‘Mandela het nog nie gevra om te gaan nie’

Verskeie familielede van oudpres. Nelson Mandela het hom Maandag by die hospitaal in Pretoria besoek waar hy in ‘n kritieke toestand verkeer.

Sy eksvrou, Winnie Madikizela-Mandela, en sy dogter, Zindzi Mandela-Motlhajwa, het in ‘n goudkleurige BMW met blou polisieligte by die Harthospitaal in Pretoria aangekom.

Een van sy ander dogters, Zenani Mandela-Dlamini, het vroeër in ‘n swart Mercedes-Benz opgedaag.

Plaaslike en internasionale joernaliste wag ook nog geduldig buite die hospitaal.

Joernaliste het bespiegel dat pres. Jacob Zuma die voormalige staatshoof gou weer sal besoek.

Ook die minister van verdediging en militêre veterane, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, het vroeër by die hospitaal aangekom.

Bantu Holomisa, leier van die UDM en ‘n vriend van die familie, het in ‘n BMW X5 sy opwagting gemaak.

Pres. Jacob Zuma het Maandagoggend tydens ‘n mediakonferensie in Parktown, Johannesburg bevestig dat Mandela se toestand steeds kritiek is.
 
“Die dokters doen alles in hulle vermoë om sy welstand en gemak te verseker,” het hy gesê.

“Ek dink nie ek is in ‘n posisie om verdere besonderhede te gee nie.”

Mandela se oudste dogter, Makaziwe, het in ‘n onderhoud met die nuuskanaal CNN gesê haar familie is nog nie heeltemal gereed om van hom afskeid te neem nie.

Sy het gesê die familie vind sommige berigte oor Mandela ontstellend en die media behoort terug te staan en die gesin te respekteer.

Sy het ook gepraat oor haar pa se mediese behandeling en dat die Thembu-kultuur vereis dat die sterwende vra om verlos te word. “My pa het dit nog nie vir ons gesê nie,” het sy verduidelik.

Maak 'n opvolg-bydrae