Joemat-Pettersson ontken berig van omkoopgeld

Tina Joemat-Pettersson, minister van landbou, bosbou en visserye, het mediaberigte dat sy omkoopgeld ontvang het, ontken.

Die bewerings in Sunday Times dat Joemat-Pettersson gebaat het by die verkoop van ‘n wildplaas is “ongegrond en betreurenswaardig,” het Palesa Mokomele, haar woordvoerder, in ‘n verklaring gesê.

“Diegene wat minister Joemat-Pettersson ken, weet dat sy ‘n leier is wat vir mense omgee en wat ander deurlopend dien en streef vir die ontwikkeling van landelike vroue en gemeenskappe,” het Mokomele gesê.

“Die plaas onder bespreking was vir die voordeel van vroue in landelike gebiede deur vaardigheidsontwikkeling en werkskepping.”

Sunday Times het berig dat Joemat-Pettersson ondersoek word vir die aanvaarding van ‘n betaling om die verkoop van ‘n wildplaas van R18 miljoen vir minderbevoorregte vroue te reël.

Die verslag het beweer dat sy in 2006 ‘n bedrag van R100 000 betaal is vir haar bydrae tot die verkoop van die Sunset-wildplaas buite Douglas. Dit was terwyl sy LUR in die Noord-Kaap was.

Maak 'n opvolg-bydrae