Arnold Bengis, ‘n sakeman van Houtbaai, is deur ‘n hof in die VSA beveel om bykans R295 miljoen aan Suid-Afrikaanse owerhede te betaal, het The Star Maandag berig.
Die hofbevel is Vrydag deur ‘n Amerikaanse hof uitgereik, en sluit Bengis se seun, David, en sy voormalige sakevennoot, Jeffrey Noll in.
Die hof het beveel dat Bengis, 77, David, 43, en Noll, 62, moet betaal vir die onwettige uitvoer van groot hoeveelhede kreef van Suid-Afrika se Weskus na die VSA.
Dit is die grootste hofbevel van sy soort, het die berig gelui.
Die drie het reeds R70 miljoen aan die Suid-Afrikaanse regering oorbetaal as deel van ‘n ander saak, en sal nou die oorblywende R224 miljoen moet betaal.
Desmond Stevens, waarnemende hoof van visserye in die departement van landbou, bosbou en visserye, het gesê die regering het aanvanklik vergoeding van meer as R537 miljoen geëis, maar is baie tevrede met die Amerikaanse hofbevel.
Noll en Bengis was volgens koerantberigte aan die stuur van twee Amerikaanse maatskappye wat die kreef namens Hout Bay Fishing Industries ingevoer en verwerk het.
