Griekse vakbonde beplan ‘n algemene staking van 24 uur uit protes teen die regering se besluit om die openbare uitsaaier te sluit as deel van sy besparingsmaatreëls.
Die Sosialiste en gematig-linkse partye wat die koalisieregering steun, het die besluit as “onaanvaarbaar” bestempel.
Intussen is daar geen aanduiding dat die eerste minister Antonis Samaras die besluit gaan heroorweeg nie.
Hy het by ‘n vergadering van die Europese Beleggingsbank in Athene gesê uiterste vermorsing kom by die ERT voor en die besluit is in die openbare belang. Hy sê die ERT sal heropen word met sowat die helfte van sy werknemers.
Die Europese Unie het in sy reaksie gesê hy bevraagteken nie die Griekse regering se besluit nie, maar dat openbare uitsaaiers deel van die Europese demokrasie is.
