ATKV wil Afrikaans as amptelike taal vestig

Danny Titus, uitvoerende direkteur vir kultuur by die ATKV het op die organisasie se jaarvergadering in Mosselbaai gesê die ATKV beplan om Afrikaans as een van die land se drie amptelike tale te vestig.

Titus het aan Beeld gesê die jongste sensussyfers toon ‘n groei in Afrikaans en 870 000 méér mense praat tans die taal.

Meer as 600 000 swartes het Afrikaans as hul huistaal aangedui. Afrikaans is onder die drie mees gebruikte tale in ses van die nege provinsies.

Die Talewet wat op 2 Mei deur pres. Zuma ingestel is, het belangegroepe tot Vrydag gegee om kommentaar te lewer daarop.

Een van die belangrikste regulasies sal wees om drie tale in elke provinsie as amptelike tale aan te dui. Van elke nasionale departement en onderneming sal verwag word om ‘n taalbeleid op te stel.

“Die ATKV het begin om die Talewet in regs- en gebruiksafrikaans te vertaal en met staatsdepartemente en instellings soos die SAL, Telkom, Transnet en ander te praat om die wet se belang uit te lê.”

Titus glo die ATKV sal Afrikaans as een van die drie landwye amptelike tale vestig, omdat die gebruik van ampstale verskil op provinsiale vlak en dus behoort voorkeur aan die tale van die betrokke taalgemeenskappe gegee te word.

Maak 'n opvolg-bydrae