Siriese rebelle dreig openlik om ‘n volskaalse volksmoord te ontketen wat daarop gemik is om minderhede waaronder Christene, gematigde Moslems en veral die Islamitiese Alawiete-party van Bashar al-Assad, uit te wis.
As pres. Obama en sy koalisie van Soenni-diktators voortgaan om die konflik te steun, het die rebelle-woordvoerder belowe in sy nuutste TV-onderhoud, sal die minderheidsgemeenskappe van “die kaart gevee” word.
Die openlike volksmoord-aankondiging kom kort nadat Senator Rand Paul (R-Ky.) die Amerikaanse Senaat se Buitelandse Betrekkinge-komitee gekritiseer het weens hul stem om die rebelle te bewapen.
Die rebelle in Sirië veg onder die vaandel van Al-Kaida. ‘n Amerikaanse senaatskomitee het dus sy steun vir die bewapening van internasionale terroriste wat openlik dreig om minderhede uit te wis, toegesê.
Die aanvalle op Christene in Sirië is omvattend gedokumenteer. Minderheidsgemeenskappe – veral Christene – word lank reeds geteiken deur rebellemagte in die voortslepende oorlog. Maar, as die dreigement van uitwissing amptelik in werking gestel word, sal die resultate ondenkbare bloedvergieting en afgryse tot gevolg hê, sê kenners.
Soenni-moslems, wat die rebelle se getalle oorheers, maak ‘n groot meerderheid uit van die bevolking in Sirië, tot soveel as driekwart of meer van die 22 miljoen mense. Minderheidsgroepe egter – Sjiïete, Christene, Jode, en ander – verteenwoordig ‘n geskatte 20 tot 30 persent van die Arameërs.
Lede van feitlik alle minderheidsgemeenskappe wat geteiken word deur rebelle, is weens hul vermeende steun aan die sekulêre regime, wat grootliks minderhede van Islamitiese geweld beskerm het, ten spyte van Assad se ysterhand.
Die Ortodokse Kerk verwys na die vervolging as die “voortgesette etniese suiwering van Christene” deur Moslemmilitante gekoppel aan al-Kaida.
Die mediareus Al Jazeera, wat die rebelle ondersteun, word beheer deur die diktatuur in Katar en probeer die magte lojaal aan Assad die skuld gee vir die etniese suiwering wat tans aan die gang is.
Hulpagentskappe het egter die volle verhaal gedokumenteer oor die terreur gemik teen minderhede, veral die kerk. “Christene word gedwing om te vlug na die veiligheid van regering-beheerde gebiede,” sê ‘n woordvoerder vir die Christelike agentskap Barnabas Fund, wat berig dat meer as 200 Christene vermoor is deur rebelle. Hul huise en al hul besittings word sondermeer ook gesteel.
Die ou-Christelike gemeenskappe wat deur die sekulêre Assad regime beskerm is, vrees volksmoord as Asad uiteindelik val en vervang word deur ‘n Soenni-teokrasie. Ontleders het gesê dié kommer is gegrond.
So ‘n ontwikkeling sal ook in lyn wees met wat plaasgevind het in ander lande waar die Amerikaanse regering ingegryp het. In Irak, byvoorbeeld, is die ou Christelike gemeenskappe almal maar uitgewis ná die Amerikaanse militêre inval en besetting. Baie het gevlug na Sirië.
Na aanleiding van Obama se steun vir die “Arabiese Lente” is Christene ook onder skoot in Egipte, Libië, en ander lande in die Midde-Ooste.
President Obama se ongrondwetlike oorlog teen Libië het reeds gelei tot etniese uitwissing van swartes deur die Amerikaanse-gesteunde rebelle.
Die VSA en Russiese regerings beplan tans ‘n internasionale konferensie oor die Siriese oorlog in Genève volgende maand, en die Assad regime het ingestem om “in beginsel” deel te neem.
Terwyl buitelandse magte voortgaan om brandstof te gooi op die brandende inferno wat woed in Sirië, is soveel as reeds 100,000 mense dood. ‘n Geskatte 1,5 miljoen het gevlug na die buiteland.
Die aantal tragedies, die wreedhede, die skending van menseregte, met onskuldige burgerlikes wat die swaarste prys betaal, vermeerder daagliks.
