Parys-aanval wel ‘terreur’

‘n Verdagte wat Woensdag in hegtenis geneem is, het erken dat hy Saterdag ‘n Franse soldaat in Parys met ‘n mes aangeval het.

Xavier Molins, ‘n staatsaanklaer, het ook bevestig dat die man die soldaat as gevolg van sy godsdiensoortuiginge aangeval het.

Die man, wat net as Alexandre geïdentifiseer is, sal Donderdag 22 jaar oud word.

Volgens bronne het hy hom “drie of vier jaar gelede” tot Islam bekeer en is bekend aan die polisie ná hulle hom in 2007 ondersoek het omdat hy op straat gebid het.

Hy het Saterdag die Franse soldaat Cedric Cordiez in sy nek met ‘n mes gesteek terwyl Cordiez op patrollie saam met twee kollegas was.

Die aanval is soortgelyk aan die aanval in Woolwich, Londen verlede week, toe die soldaat Lee Rigby helder oordag deur twee ekstremiste vermoor is.

Amptenare kon nog nie vasstel of die aanvalle met mekaar verband hou nie.

Cordiez is intussen uit die hospitaal ontslaan en het weer by sy eenheid aangesluit.

Maak 'n opvolg-bydrae