‘n Eertydse predikant in die Metodistekerk wat afgedank is oor haar gay huwelik, gaan ‘n hof nader om haar afdanking te betwis, het die Cape Times Maandag berig.
Ecclesia de Lange (43) het in Desember 2009 die Metodistekerk van Suider-Afrika in kennis gestel van haar voorneme om met haar lewensmaat te trou.
Sy is in 2010 daarvan aangekla dat sy die kerk se reëls oortree het en is afgedank nadat haar appèl verwerp is.
Die kerk het haar in Augustus 2006 as ‘n predikant verorden en sy het in gemeentes in Brackenfell en Windsor Park gewerk.
De Lange het aan die koerant gesê die kerk het “geen beleid oor gay huwelike nie”.
Hoewel die kerk al jare lank beleid formuleer oor gay-huwelike, is ‘n finale besluit nog nie geneem nie, en dus het De Lange geen reëls oortree nie.
Die saak sal Dinsdag in die Wes-Kaapse hooggeregshof aangehoor word, wanneer De Lange sal vra dat die kerk se interne beslissing ter syde gestel word en dat sy as predikant heraangestel word.
