Die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) het ‘n lisensie vir Eskom se Sere-windplaas in die Wes-Kaap goedgekeur.
“Hierdie is ‘n opwindende mylpaal in Eskom se dryf na skoner energie-opwekking,” het Brian Dames, uitvoerende hoof van Eskom, Maandag in ‘n verklaring gesê.
“Sere is ons eerste, grootskaalse projek vir hernieubare energie. Dit is ‘n bewys van ons verbintenis tot die vermindering van ons koolstofvoetspoor en tot beleggings in ‘n toekoms van volhoubare energie.”
Die lisensie sal Eskom toelaat om te begin met konstruksiewerk vir die projek van R2,4 miljard, wat na verwagting al in die eerste helfte van 2014 sy eerste krag aan die nasionale netwerk kan lewer. Die aanleg sal teen die einde van 2014 ten volle operasioneel wees.
Sere is die Nama-woord vir “koel bries”.
Eskom het gesê die windplaas, wat naby Koekenaap geleë sal wees, sal tot 100 MW krag lewer vir die nasionale kragnetwerk, en kan oor 20 jaar die vrystelling van sowat 4,7 miljoen ton se koolstofdioksied verhoed.
Die projek het ‘n operasionele lewensduur van sowat 20 jaar, en kan jaarliks krag voorsien vir sowat 97 000 gemiddelde wonings.
