R18 miljoen se kokaiën by Beitbrug gevat

‘n Man wat kokaïen met ‘n geraamde straatwaarde van R18 miljoen oor die Beitbrug-grenspos wou smokkel, is in hegtenis geneem, het die polisie in Limpopo Sondag gesê.

“Die dwelms is gevind toe die man se sakke deursoek is,” het kol. Ronel Otto, polisiewoordvoerder, in ‘n verklaring gesê.

Sy het gesê die polisie het rolle met gare in die man se sak gevind. Die rolle was “baie swaar” en ‘n snuffelhond is ingeroep.

“Die hond het positief gereageer.”

Die gare is van die rolle verwyder en plastieksakkies met kokaïen is toe uitgehaal.

“Die kokaïen wat gevind is, weeg ‘n totaal van 10,8 kg en het ‘n geraamde straatwaarde van R12 miljoen,” het Otto gesê.

Otto het gesê nóg kokaïen, wat 5,2 kg weeg en ‘n geraamde straatwaarde het van R6,4 miljoen, is in ‘n valse kompartement in die sak gevind.

Die 36-jarige man sal Maandag op aanklagte van dwelmhandel en die besit van dwelms in die Musina-landdroshof verskyn.

Maak 'n opvolg-bydrae