praag.co.za

Zuma nie by Gupta-landing betrokke nie

Written by

in

Pres. Jacob Zuma en sy kabinet was nie betrokke by die besluit ivm die Gupta-landing by die Waterkloof-lugmagbasis nie, het Jeff Radebe, minister van justisie, Sondag gesê.

Radebe het gesê Bruce Koloane, hoof van staatsprotokol, wat op verpligte verlof geplaas is, het ‘n verklaring gegee van almal wat betrokke was by die toestemming vir die vliegtuig op 29 April om te land.

“Dit is hoekom ons sonder enige vrees van teenstrydigheid sê geen minister was betrokke in die saak nie. Die president was nie betrokke in die saak nie.

“Die president is nie betrokke in die goedkeuring van die landing of geen landing by ‘n lugmagbasis nie. Die besluit lê by die departement van verdediging, veral die lugmagbeheer daar.”

Die Guptas se privaatstraler het 270 trougaste vervoer.

Die gaste het die troue van Vega Gupta en Aakash Jahajgarhia bygewoon. Die landing van die vliegtuig het wydverspreide kritiek ontlok.

Die regering het gevra dat ‘n ondersoek gedoen na ‘n moontlike verontagsaming van diplomatieke protokol. Radebe het die voorlopige bevindings van dié ondersoek bekend gemaak.

Een van die bevindings was dat die landing van ‘n kommersiële vliegtuig ‘n direkte gevolg was van die manipulasie van prosesse en dat name “genoem” is deur die loop van die gebeure.

“Wie se naam is genoem? Dit was nie ‘n naam nie, dit was name. Die minister van verdediging [Nosiviwe Mapisa-Nqakula], die minister van vervoer [Ben Martins] en die naam van die president.”

Die ministers het hul direkteurs-generaal gevra om onmiddellik te reageer or die voorstelle van die verslag.

Die departemente wat geraak word moet so gou as moontlik hul eie ondersoeke doen om te verseker dat tugstappe, waar nodig, gedoen word.

Verskeie aanklagte is reeds by die Sun City-polisiekantoor in die Noordwes aanhangig gemaak.

Die aanklagte hou verband met ondermeer die oortreding van die Wet op Vuurwapenbeheer en die Wet op Nasionale Padverkeer.

‘n Saak van die oortreding van die wet op polisie is by die Lyttleton-polisiekantoor in Gauteng aanhangig gemaak.

‘n Volledige verslag sal volgende week bekend gemaak word.

Comments

Leave a Reply