Diamantdiewe in Brussel vas na reuseklopjag

Die polisie het klopjagte in Brussel gedoen na ‘n dramatiese rooftog twee maande gelede by die land se hooflughawe waarin talle diamante gebuit is, het die Sudpresse-nuusagentskap berig.

Altesaam 31 mense is in drie lande in hegtenis geneem. Een verdagte is in Frankryk vasgetrek, ses in Switserland en 24 in België, het die aanklaer, Anja Bijnens, volgens AP tydens ‘n nuuskonferensie in Brussel gesê.

Sowat 200 polisiebeamptes het 40 woonstelle, meestal in Brussel, deursoek.

Volgens Bijnens is geld en diamante wat met die diefstal verbind word, ook gevind – die geld in België en die diamante in Switserland. Die bedrae is nie bekendgemaak nie.

Agt mans het op 18 Februarie deur ‘n heining by Brussel se Zaventem-lughawe gebreek en ‘n beraamde 120 pakkies diamante gesteel. Werkers was besig om die diamante van ‘n vragmotor na ‘n vliegtuig wat na Switserland op pad was, oor te laai.

Antwerp World Diamond Centre het die waarde van die diamante op sowat $50 miljoen (R452 miljoen) geraam.

Maak 'n opvolg-bydrae