‘n Vliegtuig het gisteraand in ‘n dam in Noordwes neergestort.
‘n Beeswagter het die vliegtuig naby die Modimoladam by Mmabatho gesien, het brig. Thulani Ngubane van die polisie in Noordwes gesê.
Die vliegtuig het tussen 17:30 en 18:00 in die water geval. Die polisie kon nie by die ongelukstoneel uitkom nie en het Dinsdagaand gewag op bote wat van Klerksdorp op pad was om te help met die soektog.
Weens die donker kon die polisie nie gisteraand ondersoek instel voordat die bote opgedaag het nie. Die dam is groot en diep, het Ngubane gesê.
Twee mense was vermoedelik in die vliegtuig – ‘n vlieënier en ‘n assistent.
Die polisie vermoed dit was ‘n opleidingsvliegtuig wat van die nabygeleë Mafikeng-lughawe opgestyg het.
News24 het berig dat dit moontlik ‘n Tiger Moth is, maar dit kon nie teen druktyd bevestig word nie.
