Nuwe bewyse dat die Angolese president Jose Eduardo dos Santos miljoene uit die staatskas in die laat 1990’s in sy eie sak gesteek het, het na vore gekom. Dit hou verband met die terugbetaling van skuld na ‘n ooreenkoms tussen Angola en Rusland.
Die Londense waghond Corruption Watch het Dinsdag ‘n verslag vrygestel waarin beweerd word dat Dos Santos, top-olie amptenare en politici uit terugbetalings na Rusland deur middel van ‘n middelman voordeel getrek het.
Hierdie nuwe bewyse is aan aanklaers in Berne, Switserland Vrydag oorhandig.
Die organisasie wil ‘n nuwe ondersoek ingestel hê na “skokkende gevalle van bedrog en misleiding deur senior politici, amptenare en twyfelagtige sakelui, aangehelp deur die internasionale finansiële instellings, om hul eie burgers te beroof vir persoonlike gewin”.
In 1996 het Rusland aan Dos Santos se MPLA-regering, wat betrokke was in ‘n bloedige burgeroorlog, ‘n reeks lenings ten bedrae van $5 miljard dollar toegestaan.
Dit was twee-derdes van Angola se hele jaarlikse ekonomiese uitset.
Die geld is via ‘n tussenganger Abalone Investments betaal, vir dié doel deur sakemanne Arcadi Gaydamak en Pierre Falcone opgerig.
Die maatskappy word daarvan beskuldig dat hulle so veel as $750,000,000 van die Angolese regering se skuldterugbetalings gesteel het terwyl sommige individue, insluitende Dos Santos, $36.250.000 ontvang het via frontmaatskappye.
Volgens die verslag, het Rusland uiteindelik baie minder as die ooreengekome bedrag aanvaar.
‘n Vorige ondersoek is in 2004 in Switserland laat vaar.
“Elke element van hierdie komplekse transaksie versterk net hoe korrup die transaksie was, ‘n afpersingskema van globale omvang, wat die middelman en elite in Angola en byna seker Rusland bevoordeel het, met die hulp van ‘n groot Switserse bank,” lui die verslag.
‘n Angolese regeringswoordvoerder kon nie dadelik reageer op die bewerings nie.
“Switserland se bankstelsel het toegelaat dat hierdie geld gesteel word uit een van die wêreld se armste lande,” sê David Mendes, ‘n Angolese prokureur en die opposisiefiguur.
Korrupsie is algemeen in Angola wat 157ste van 174 lande in Transparency International se korrupsie-persepsie-indeks verlede jaar gestaan het.
Ten spyte van hierdie massiewe olie-rykdom, met grootskaalse wanbesteding van openbare fondse, bly die land een van die heel armstes ter wêreld.
