Verskeie raadslede van die Mbizana-munisipaliteit in die Oos-Kaap is deur die bestuur van die ANC aangesê om te bedank, het die party in die provinsie Maandag gesê.
“Die party se president [Zuma] en sy ses toplede het Vrydag die Mbizana- plaaslike munisipaliteit besoek, wat sedert middel-2012 probleme ervaar,” het Mlibo Qoboshiyane, woordvoerder vir die ANC in die Oos-Kaap, gesê.
Die munisipaliteit se burgemeester, speaker, en hoofsweep is aangesê om Maandag te bedank. Die munisipale bestuurder se kontrak moet ook hersien word.
Dit sal die vestiging van ‘n nuwe administrasie moontlik maak, het Qoboshiyane gesê.
Die munisipaliteit is verlede jaar onder administrasie geplaas ná die skorsing van Simphiwe Thobela, die munisipale bestuurder. Dié skorsing en ‘n rits onwettige raadsvergaderings is later deur ‘n hof ongeldig verklaar.
“[Daar was] algehele verset teen provinsiale en nasionale leiding,” het Qoboshiyane gesê.
‘n Spesiale raadsvergadering sal gehou word om nuwe leiers aan te stel.
