Die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) staan gereed om die M23-rebellegroep in die ooste van die Demokratiese Republiek van die Kongo aan te vat het ‘n woordvoerder Maandag gesê.
“Ons is nie bang om oorlog te voer nie,” het Xolani Mabanga, woordvoerder van die SANDF, aan SAfm gesê.
“As hulle [M23] oorlog verklaar teen personeel van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag, is ons gereed om hulle aan te vat. Ons, as die SANW, sal nooit van koers af gebring word deur enige omstandighede terwyl ons dít najaag wat die regering van Suid-Afrika ons gevra het om te doen nie.”
Mabanga het gesê die situasie in die ooste van die DRK verskil van die ontplooiing van Suid-Afrikaanse soldate in die Sentraal-Afrikaanse Republiek. Altesaam 13 soldate is in dié land dood.
“Ons weet wat die konflik is [in die DRK], terwyl ons nie dieselfde kan sê oor die situasie in die SAR nie.”
Mabanga wou nie sê hoeveel soldate in die DRK ontplooi sal word as deel van ‘n ingrypingsmag van die Verenigde Nasies nie.
“Toe ons by die SANW aangesluit het, het ons gesê ons is bereid om te sterf en ons is bereid om enigiets te doen en daarom is dít die opoffering wat ons vir die land maak.
“Ons is nie bang om oorlog te voer nie. Ons is nie bang om enige plek te gaan waar ons gevra word om te wees nie,” het Mabanga gesê.
Die VN se Veiligheidsraad het verlede week ‘n resolusie aanvaar wat die ontplooiing van ‘n ingrypingsmag in die DRK goedkeur.
Verskeie gewapende groepe, insluitend M23-rebelle, is in die ooste van die DRK aktief, waar hulle probeer om beheer oor die land se minerale rykdom te kry.
