Angie swyg oor SADTU-sloerstaking

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, is doodstil oor die beplande sloerstaking van onderwysers.

“Die minister gaan nie kommentaar lewer oor die kwessie nie,” het haar woordvoerder, Hope Mokgatlhe, Maandag in ‘n SMS-boodskap gesê.

Die onderwysersunie SADTU het Maandag gedreig om met ‘n sloerstaking te begin as die skole dié week heropen.

Dit is om te eis dat Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, en haar direkteur-generaal, Bobby Soobrayan, bedank, het Mugwena Maluleke, sekretaris-generaal van SADTU, gesê.

Skole in die binneland en skole aan die kus heropen Dinsdag ná die vakansie.

Maluleke het gesê Motshekga se departement het nie die salarisse van nasieners van matriekvraestelle verhoog ingevolge ‘n ooreenkoms wat in 2011 bereik is nie.

“Die minister laat die land in die steek en sy ondermyn kollektiewe bedinging. Haar leierskap beïnvloed die gehalte van onderwys,” het Maluleke gesê.

Volgens Maluleke sal onderwysers slegs by skole opdaag om klas te gee. Hulle sal nie ekstra pligte verrig soos om take na te sien, werksessies by te woon en departementele gaste te verwelkom nie.

“Aanvullende eksamens wat in Februarie afgelê is, sal nie nagesien word nie. Dit word gewoonlik in April gedoen.”

Onderwysers was vroeër vanjaar woedend toe die regering voorgestel het dat onderwys tot ‘n noodsaaklike diens verklaar word, wat dit onwettig maak om te staak.

Maak 'n opvolg-bydrae