Oud-Premier Margaret Thatcher het ‘n beter begrip van Suid-Afrika se gekompliseerdheid en geo-strategiese realiteite gehad as die meeste van haar tydgenote, het oudpresident FW de Klerk Maandag in ‘n verklaring gesê.
“Thatcher het die behoefte verstaan om die bekommernisse en aspirasies van alle Suid-Afrikaners te oorweeg in hul soektog na ‘n konstitusionele konsensus.”
“Om hierdie rede was sy in staat om ‘n positiewe rol te speel in die ondersteuning van ons eie proses van transformasie in Suid-Afrika,” het De Klerk gesê.
“Sy sal nie net as een van Brittanje se grootste leiers beskou word nie, maar ook as ‘n leier wie se beleidspunte ‘n groot impak op wêreldpolitiek gehad het,” het hy gesê.
“Ons het verskeie kere in die Kaap en in Londen ontmoet nadat sy as premier uitgetree het en voor haar beroerte in 2002. Ek voel geëerd om Margaret Thatcher as ‘n vriend te kon hê,” het hy gesê.
