Ystervrou oorlede

Margaret Thatcher, wat die Verenigde Koninkryk se langsdienende premier in die vorige eeu was, is ná ‘n beroerte oorlede. Sy was 87 jaar oud.

Thatcher se woordvoerder, Lord Bell, het haar as een van die groot premiers van alle tye beskryf. Hy het aan Sky News gesê: “Ons sal nooit weer iemand soos sy sien nie.”

Hy het gesê Thatcher het mense se lewens verander.

Hy het die voormalige premier, die dogter van ‘n kruidenier van Grantham, beskryf as die beste leier van die Konserwatiewe Party benewens Winston Churchill.

“Sy was net ‘n fantastiese mens – met uitsonderlike charisma, baie gefokus, lief vir haar land, mal daaroor om in die regering te dien en het haar lewe daaraan gewy om mense se lewens te verbeter… ek dink die geskiedenis sal haar met baie begrip onthou.”

David Cameron, die huidige premier, het ook sy medelye uitgespreek: “Ek het met groot hartseer uitgevind van Lady Thatcher se dood. Ons het ‘n groot leier, ‘n goeie premier en ‘n wonderlike Brit verloor.”

‘n Verklaring van Buckingham-paleis het gelui: “Die koningin is hartseer om die nuus te ontvang van Barones Thatcher se dood. Haar majesteit sal ‘n private boodskap van simpatie aan die familie uitreik.”

Downing-straat het aangekondig dat ‘n volle seremoniële begrafnis by die St Paulus-katedraal vir haar gehou sal word.

Thatcher, het tussen 1979 en 1990 as Britse leier gedien.

Maak 'n opvolg-bydrae