Die Polihali-dam wat in Lesotho gebou gaan word om deel uit te maak van die Hoogland-waterprojek wat water aan Suid-Afrika sal voorsien, is in die gedrang nadat die jeugliga-forum van Lesotho gevra het dat die konstruksiewerk opgeskort word.
Talle koerante het berig dat die koalisie-regering se Basotho National Party, die hoof-opposisie, die Democratic Congress en die Lesotho Peoples Congress briewe aan die eerste minister Tom Thabane geskryf het waarin hulle dreig dat die jeug gemobiliseer sal word as deel van die voortslepende protes-aksie teen die dam.
Die dam sal nie net water aan Suid-Afrika verskaf nie, maar ook elektrisiteit vir Lesotho opwek. Bouwerk aan die dam van nege-miljard rand moet teen 2016 begin.
Ingeligte bronne sê die faksies veg want wie die Private Sector Foundation of Lesotho (PSFL) beheer sal goed geposisioneer wees om voordeel te trek uit winsgewende tenders in die Lesotho Hooglandwaterprojek se M7.3 miljard Polihali-damprojek in Mokhotlong.
Osman Moosa bly voorsitter en hy sal sy finansiële spierkrag gebruik om kontrakte te monopoliseer.
Moosa het groot regeringstenders, selfs nadat sy reputasie as ‘n sakeman deur ‘n skuldigbevinding oor belastingontduiking in die gedrang gebring is.
Sommige PSFL lede vrees dat sy kriminele rekord die konsortium se kanse om groot kontrakte te kry, in gevaar kan stel.
Moosa en buitelandse beleggers sal baat vind by die Polihali-konstruksie,” sê ‘n PSFL lid. Moosa, sy seun Shameen Moosa en hul maatskappy Selkol 1983 (Edms) Bpk is skuldig bevind aan 198 aanklagte van belastingontduiking in Augustus verlede jaar.
Verlede jaar het Lesotho en Suid-Afrika ‘n ooreenkoms onderteken om te begin aan die LHWP Fase II. Die projek sal waarskynlik met Suid-Afrikaanse belastingeld betaal word, aangesien Lesotho besonder arm is.
Die projek sluit die konstruksie van die Polihali-dam en die uitbreiding van die Muela hidrokragstasie in Butha-Buthe in om meer elektrisiteit vir die twee lande te genereer.
