Liesl Botha, die ma van die vermoorde Alyssa Botha (13), is Sondag in Muldersdrift aangeval. Die kleinhoewe is naby ‘n plakkerkamp waar veral Zimbabwiërs woon.
Botha is aan haar nek en arms met gebreekte glas gesny en gedreig.
Lt.kol. Lungelo Dlamini, polisiewoordvoerder, het gesê twee inbrekers het omstreeks 02:00 deur die kombuisvenster by die huis ingebreek.
Die huis is geplunder en die televisie, juwele, kontant en selfoon is gesteel.
Botha se man, Anton, en dogter, Meghan (17), was nie tuis nie. Volgens ‘n taumaberader, is die vrou erg getraumatiseerd.
Niemand is nog in verband met die aanval gearresteer nie.
Alyssa, wat ‘n gr. 8-leerling aan die Hoërskool Monument in Krugersdorp was, is verlede jaar op dieselfde hoewe deur rowers doodgeskiet. Anton en Meghan is destyds gewond.
