Sielkundiges van die weermag is inderhaas ontplooi vir ‘n spesiale ontlontingsessie in die Krugerwildtuin om die moontlike rassespanning ná ‘n helikopterongeluk wat deur ‘n onervare swart vlieënier veroorsaak is, te bestuur.
Dit blyk dat die helikoptervlieënier wat die ongeluk veroorsaak het waarin ‘n wit kaptein dood is, nie ondervinding van “toestande in die wildtuin” gehad het nie.
Kapt. Phil Chabalala (vlieënier) en sers. G.P. Ruiters (vlugingenieur) het volgens bronne baie min ondervinding van vlieg oor die algemeen gehad. Ruiters het glo eers twee weke gelede as vlugingenieur gekwalifiseer.
Lugsteun is na Houtboschrand, noord van Satara, tesame met soldate in ‘n reaksiemag teen die stropers ontplooi. Die span het die naweek gehelp om ‘n gewonde renosterstroper na ‘n hospitaal te vlieg.
Voertuie se ligte is aangeskakel om die landingsterrein te help verlig omdat dit donker was. Chabalala het blykbaar gesukkel om te land.
Hy het besluit om nog ‘n slag te sirkel en weer te probeer. Die heli het sowat 1 km verder verongeluk nadat dit oor die grond getol het en in stukke gebreek het.
Die lugmagbemanning van die Agusta 109-helikopter van 15 Eskader in Durban was slegs vir die naweek ontplooi, het Beeld berig.
Hulle het Woensdag in die wildtuin aangekom..
Edna Molewa, minister van water- en omgewingsake het hulde gebring aan die soldate wat hul lewens op die spel plaas in die stryd teen die stropers.
Die tragedie waarin al vyf insittendes dood is, mag nie tot moedeloosheid in die stryd teen die stropers lei nie, het sy gesê.
