‘Verkragters deurboor in Sjaka se tyd’

Pres. Jacob Zuma het die naweek gesê verkragters is in die verlede swaarder gestraf en aanvalle op vroue is ‘n skande.

Hy het in Cato Ridge gepraat by ‘n kulturele geleentheid om hulde te bring aan Meva Ngubane, ‘n ANC-figuur. Sy was ‘n groot voorstander van swart tradisie en gebruike.

“In die dae van Ilembe (koning Sjaka) sou ons met ‘n spies afgereken het met mense wat sulke dinge doen. Maar omdat ons nou beskaafd is, sê ons so ‘n persoon is ‘n verdagte, al het ons gesien hoe die man dit doen. Bejaarde vroue van 90 jaar oud word verkrag…”

In sy toespraak, wat net in Zoeloe gehou is, het hy gesê baie gemeenskappe in Afrika het hul kultuur en identiteit verruil vir die beskawing en só die pad byster geraak. As voorbeeld het hy verwys na swak maniere en ‘n gebrek aan respek by die jeug.

Ngubane, wat in Februarie verlede jaar dood is, het kulturele bedrywighede en die swart identiteit lewend gehou in die kwaXimba-gebied.

In sy toespraak wat in Zoeloe gelewer is, het Zuma gesê baie gemeenskappe in Afrika het hul kultuur en identiteit prysgegee en is die spoor byster.

Hy het bygevoeg dat vroue nie meer gerespekteer word nie en verkrag word. Die jeug het ook nie meer respek vir ouer mense nie.

“Selfs in ‘n bus staan jongmense nie meer op sodat ouer mense kan sit nie. Hulle beroep hulle net op gelyke regte.

“Ons grondwetlike regte behoort nie gebruik te word as ‘n verskoning vir ‘n gebrek aan respek vir die ouer mense in die gemeenskap nie. Die twee behoort hand aan hand te gaan,” het hy gesê.

Zuma is vergesel van dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, voorsitter van die Afrika-Unie, dr. Zweli Mkhize, premier, en nog verskeie politieke hooggeplaastes in KwaZulu-Natal.

Beeste is geslag, rituele dansers het in tradisionele drag opgetree en jong meisies het in tradisionele drag opgedaag.

Maak 'n opvolg-bydrae