Motief vir Britse soldaat se dood in Durban duister

Die mans wat vermoedelik betrokke was by ‘n bakleiery wat gelei het tot die dood van Brett Williams, ‘n voormalige Britse marinier, sal hulle waarskynlik vandeesweek by die polisie aanmeld. Die motief vir die bakleiery is steeds duister.

Lt.kol. Vincent Mdunge, polisiewoordvoerder, het bevestig die mans se regsverteenwoordigers het met die polisie ooreengekom oor die saak. Hy het gesê die mans is nie in hegtenis geneem ná die voorval die aand van 23 Maart by die Kingspark-rugbystadion nie, maar daar is verskeie opsies om te verseker verdagtes verskyn in die hof. Dit sluit só ‘n skikkingsooreenkoms in.

Hy wou geen kommentaar lewer op berigte dat tot vyf mans betrokke was by die aanval op Williams (29) ná die Superrugby-wedstryd tussen die Sharks en die Rebels van Australië nie.

“Al wat ons wil sê, is dat ons weet wie die mans is en as hulle nie self na die polisie kom soos ooreengekom nie, sal hulle in hegtenis geneem word,” het Mdunge bygevoeg.

Volgens ooggetuies by ‘n partytjie wat ná die rugby gehou is, is Williams, ‘n Suid-Afrikaans gebore Brit, deur verskeie aanvallers oorweldig.

Daar is ook gerugte dat veiligheidspersoneel van Fidelity Security nie ingegryp het in dié noodlottige bakleiery nie.

Sowel Wahl Bartman, hoofbestuurder van dié veiligheidsgroep, as Brian van Zyl, uitvoerende hoofbestuurder van die Sharks, het dit ontken.

Van Zyl het in ‘n verklaring gesê Fidelity Security en ER24 het al die moontlike gedoen om die bakleiery te keer.

Hy het bygevoeg die veiligheid van hul toeskouers is van die grootste belang. Volgens hom was dit ‘n sinlose en geïsoleerde voorval en die stadionbestuur sal alle moontlike maatreëls tref om sulke voorvalle in die toekoms te voorkom.

Die Sharks sal die polisie bystaan in sy ondersoek, het Van Zyl gesê.

Volgens die webwerf This Is Somerset het Williams in Bishops Lydeard, naby Taunton in Somerset, Brittanje, saam met sy lewensmaat, Louise Scott, en hul dogter, Lailah, wat volgende week vier word, gewoon.

Williams was 11 jaar lank lid van die Royal Marines voordat hy hulle in Maart verlede jaar verlaat het. Hy het ook saam met 40 Commando Royal Marines diens gedoen in Afganistan.

 

Maak 'n opvolg-bydrae