‘n Leier van ‘n politieke party is Dinsdag by sy huis in die Indiese hoofstad Nieu-Delhi doodgeskiet, het die polisie gesê.
Deepak Bhardwaj, van die Bahujan Samaj Party, ‘n groot party wat aktief is in die land se mees dig bevolkte staat, Uttar Pradesh, is by sy plaashuis deur drie ongeïdentifiseerde mans vermoor.
Die 61-jarige, wat verskeie hotelle en skole besit, is na ‘n nabygeleë hospitaal geneem waar hy dood verklaar is.
Bhardwaj het die nasionale verkiesing van 2009 betwis en was die rykste kandidaat, met bates wat ses miljard rupees (R1 miljard) werd was.
“Drie aanvallers het in ‘n motor opgedaag en aangedring op ‘n vergadering met Bhardwaj. Een van hulle het later twee keer op hom geskiet wat sy dood veroorsaak het,” het Neeraj Kumar, die polisiehoof in Delhi, gesê.
“Ons het kringtelevisie-beeldmateriaal van die motor, die verdagtes en verskeie wenke waaraan ons werk. Ek is seker ons sal hierdie saak binnekort oplos,” het hy bygevoeg.
Volgens polisiebeamptes kon die moord moontlik die gevolg gewees het van ‘n persoonlike vyandskap en die aanvallers was huurmoordenaars, het die plaaslike media berig.
