Gaan Zuma koloniale voete soen?

President Zuma het aangedui dat hy gretig is om ‘n oplossing te soek vir die burgeroorlog in Sirië.

Bouthaina Shabaan, ‘n adviseur van die Siriese president Bashar al-Assad, het Suid-Afrika Saterdag besoek om ‘n beroep te doen op die Brics-lande om in te gryp en die konflik in sy land te beëindig.

Die Brics-blok van ontluikende lande – bestaande uit Brasilië, Rusland, Indië, China en Suid-Afrika – sal volgende week in Durban byeenkom met Zuma in die voorsitterstoel.

Assad pleit vir ingryping deur die Brics-groep om die geweld in sy land tot ‘n einde te bring en dialoog te bevorder.

Shabaan het aangedui dat Zuma baie positief gereageer het.

Sommige ontleders sien ‘n herhaling van gebeure in Libië, toe Zuma pogings deur die Afrika-unie (AU) gelei het om tussenbeide te tree in die oorlog daar met voorstelle vir vredesgesprekke tussen die beleërde leier Moeammar Gaddafi en rebelle wat deur die buiteland gesteun en befonds is.

Zuma het in 2011 ‘n komitee van AU-presidente gelei wat probeer het om Gaddafi en die rebelle te oortuig om vredesgesprekke te voer. Gaddafi het gesê hy is gereed om dit te doen, maar die rebelle het gesê hulle sal slegs onderhandel as Ghaddafi uitgetree. Hy het geweier en is uiteindelik omver gewerp en vermoor.

Zuma was egter hewig ontsteld dat NAVO geweier het om die vliegspergebied oor Tripoli te lig sodat hy en sy AU-eweknieë kon terugkeer na Libië om die vredestrategie te laat realiseer.

Die belangrike verskil tussen Libië en Sirië is dat NAVO en sekere Westerse moondhede tot dusver geweier het om militêr betrokke te raak in Sirië.

Frankryk en die Verenigde Koninkryk probeer egter om druk te plaas op sulke lande. Op ‘n Europese Unie-beraad in Brussel verlede week, het die twee probeer om die EU te oorreed om die wapenembargo teen Sirië te lig sodat die rebelle toegang tot wapens kan bekom om die Siriese weermag uit die kussings te lig.

Hulle het misluk omdat EU-leiers vrees dat die rebelle die konflik sodoende sal uitbrei, wat sal lei tot nog groter lewensverlies en onstabiliteit elders in die reeds wankelrige Midde-Ooste.

‘n Dekade na die oorlog in Irak, het ‘n Britse YouGov-peiling getoon dat meer as die helfte van die Britte enige militêre ingryping deur hul regering teenstaan.

‘n Meningspeiling deur YouGov vir Channel 4 Nuus het bevind dat die helfte van die Britte nie defensiewe militêre voorrade soos lugafweer-kanonne aan anti-Assad troepe wil verskaf nie.

Vier-en-sestig persent was teen die verskaffing van militêre toerusting soos tenks en swaar artillerie. Die Franse publiek is ook gekant daarteen. Byna die helfte is gekant teen enige vorm van bewapening van die opposisie.

Die opname beklemtoon die ongewildheid van dieper betrokkenheid in die konflik, selfs al agiteer die Britse regering vir verdere intervensie.

Dit is reeds algemeen bekend dat Westerse wapens oor die Libiese grens gespoel het om die opstand in Mali te voed.

Die Islamitiese jihadiste in die breë koalisie van rebellemagte wat probeer om Assad omver te werp, sluit Al-Kaida in. Brittanje en Frankryk wil dus die bendes bewapen wat hulle reeds gebrandmerk het as internasionale terroriste.

Duitse kanselier Angela Merkel het opgemerk dat die EU reeds sy posisie aangepas het deur toe te laat dat nie-dodelike militêre toerusting die rebelle bereik.

Frankryk en Brittanje glo dat Zuma die Russiese president Vladimir Poetin, wat sy sentiment oor buitelandse inmenging in Sirië deel, nietemin direk sal teenstaan by die komende Brics-beraad in Durban.

Maak 'n opvolg-bydrae