Oor die afgelope week of wat het heelwat lesers seker gewonder waarom ons skielik die Disqus-kommentaarfasiliteit afgeskakel het. Let wel: Disqus is bloot afgeskakel en kan te eniger tyd geheraktiveer word met dieselfde inhoud wat steeds op Disqus.com beskikbaar is. Met u huidige gebruikersnaam en wagwoord kan u wel toegang tot u inhoud by Disqus verkry.
Omdat daar soveel ander interaktiewe forums soos Twitter en Facebook beskikbaar is, is die kommentaarfunksie op PRAAG nie van wesentlike belang vir wat ons wil bereik nie. Om die kommentare te modereer, het ons twee PRAAG-medewerkers gehad wat konstant alles gelees het en van die meer lasterlike of kwetsende stof verwyder het. Op die ou end kos dit ons geld en moeite om ‘n gespreksforum aan die gang te hou wat deur ‘n klein groepie moedswilliges misbruik word om óf aanvalle op PRAAG en die redaksie te loods óf om aartsreaksionêre kommentaar te lewer wat elders op byvoorbeeld Naspers se kommentaarafdelings nie geduld sal word nie.
Ook het van ons vyande sommige uitsprake op die kommentaarafdeling begin gebruik om dit aan PRAAG self toe te dig. Ons wil ‘n voortreflike Afrikaanse webwerf met aktuele, maar ook intellektuele artikels aan die gang hou wat ons met trots aan enigiemand kan toon en kan daarom nie bekostig om met skrywes van die Israelvisie-tipe of ander sektariese rigtings geassosieer te word nie.
Dis soveel te meer belangrik omdat ons juis, benewens ons daaglikse aktuele artikels en kommentaar, meer navorsingsartikels wil publiseer. PRAAG beskik oor ‘n belangrike groep lesers onder joernaliste, meningsvormers en akademici en ons wil graag die intellektuele onderbou met spesialisartikels versterk sonder om die algemene inhoud aan te tas.
Ons het reeds die slagspreuk van ons Engelse blad by praag.org na “journal for cultural studies” verander. Die Afrikaanse webblad sal binnekort van die subtitel “kwj” voorsien word, wat vir “kultuurwetenskapsjoernaal” sal staan.
Daar is ‘n groot behoefte aan die volgende:
– meer diepgaande ontledings van (en kritiek op) die multikulturele samelewing;
– die hersiening van die Suid-Afrikaanse en Afrikanergeskiedenis om huidige weergawes wat hoofsaaklik vanuit ‘n Britse of Marxistiese oogpunt geskryf is, teë te werk;
– ontledings van die media en globale kultuur;
– die beredenering van kulturele outonomie en selfbeskikking vir Afrikaners, maar ook ander volkere;
– indringende artikels oor geweld, sadisme en ander patologiese verskynsels in Suid-Afrika, vanuit ‘n sielkundige, sosiomaatskaplike en kriminologiese perspektief;
– ontledings van internasionale verhoudinge en geopolitiek;
– oor die opwindende verwikkelinge in die Afrikaanse letterkunde, musiek, teater en films waar daar al hoe meer sprake is van versetsliteratuur en -kuns, asook “distopiese” voorstellings van die multikulturele samelewing.
Vir die meer intellektuele, akademiese afdeling van die blad (wat tans onder “opstelle” gehuisves word, maar binnekort vernuwe sal word), is ons besig om ‘n redaksionele adviesraad te werf wat uit ‘n verskeidenheid plaaslike en buitelandse akademici sal bestaan. Van ons voorwaardes is dat die persone oor nagraadse kwalifikasies, verkieslik PhD’s, moet beskik, maar ook Afrikaans moet kan lees. Benewens diaspora-Afrikaners, is daar heelwat Amerikaners, Russe en natuurlik Vlaminge en Nederlanders wat Afrikaans magtig is en wat ons navorsingsafdeling ‘n ware internasionale aanskyn sal gee.
Op die duur wil ons aan internasionale debatte deelneem en sorg dat die Suid-Afrikaanse problematiek deel van die globale gesprek oor kultuur en samelewing word.
Hierdie nuwe fokus op navorsingsartikels behoort nie afbreuk te doen aan die lewendige aktuele inhoud en nuusartikels op die blad nie. Inteendeel, ons bou voort op die bestaande platform en sorg dat daar ‘n verdieping in die inhoud kom sodat ons ‘n baie breë spektrum van algemene en spesialislesers kan tevrede stel.
Lesers kan steeds deelneem deur briewe aan die redaksie te skryf, wat ons so vinnig moontlik sal plaas. Verder kan u die PRAAG-blad op Facebook gebruik om ‘n interaktiewe gesprek te voer. Ons sien uit na u reaksies of selfs kritiek in dié verband.
