‘n Saak is nog nie aanhangig gemaak nadat adv. Jaap Cilliers SC buite die Pretoriase hooggeregshof aangeval is nie, het die polisie Donderdag gesê.
Ao. Ann Poortman van die Pretoria-polisiekantoor het gesê sy het nie veel inligting oor die aanval nie, omdat ‘n aanklag nog nie formeel aanhangig gemaak is nie.
“Die saak is nie aangemeld nie. Ons verneem hy [Cilliers] is in die hospitaal. Dalk sal die aanklag later ingedien word,” het Poortman gesê.
“Vir die polisie om ‘n ondersoek te begin, moet ‘n aanklag aanhangig gemaak word.”
Cilliers, wat onder andere dr. Wouter Basson, Jackie Selebi en die Waterkloof-vier verdedig het, is met ‘n onbekende middel buite die Pretoriase hooggeregshof ingespuit, het Beeld berig.
Hy het Woensdagmiddag ná ‘n siviele saak uit die hof gestap toe iemand het hom van agter bestorm en hy het skielik iets soos ‘n inspuiting in sy boud gevoel.
Cilliers is na ‘n dokter geneem wat bevestig het dat hy met ‘n onbekende middel ingespuit is.
Hy is toe vir bloedtoetse na ‘n hospitaal in Pretoria geneem waar hy van lighoofdigheid en naarheid gekla het.
Die motief vir die aanval is nie bekend nie.
