‘n Onreëlmatige manipulasie van interne beheerstelsels by PetroSA het aan die lig gekom, het RSG Donderdag berig.
Die departement van energie het gesê die ondersoekspan het ‘n voorlopige verslag bekendgemaak.
Die departement het die verslag aangevra om te verseker dat daar gehou word by goeie korporatiewe regering en deursigtigheid by PetroSA, wat ‘n volfiliaal van die Sentrale Energiefonds (SEF) is.
Ernstige aantygings word glo ook teen huidige en voormalige senior amptenare in dié verslag gemaak.
Dit word tans deur die Energiefonds bestudeer.
Die voorsitter van die SEF-groep, Sankie Mthembi-Mahanyele, het gesê regstellende stappe sal volg wanneer die finale verslag uitgereik is.
Die groep bestuur energiebelange namens die regering en bevorder ook die ontwikkeling van energiebronne met spesiale klem op hernubare en skoner alternatiewe energiebronne.
