Landdroste se staking kan howe ontwrig

Landdroshowe oor die land heen kan heeltemal tot stilstand kom ná landdroste gedreig het om te staak as hulle salarisse nie binnekort aangepas word nie, het die Dispatch Online Maandag berig.

Die nasionale uitvoerende raad van die Vereniging van Regterlike Beamptes van Suid-Afrika (Joasa) het die naweek ná ‘n vergadering in Port Elizabeth bevestig dat hulle sal staak indien daar nie aan hulle salariseise gehoor gegee word nie, het die koerant berig.

Landdroste het die voorgestelde verhoging van 5% wat deur die onafhanklike vergoedingskommissie gemaak is, verwerp, en gesê die kommissie het nie die knelpunte wat uitgewys is, opgelos nie.

Die staking sal na verwagting op 18 Maart begin.

Die optrese kan ernstige gevolge vir die land se strafregstelsel inhou. Landdroste moet byvoorbeeld verhoorafwagtende gevangenes se J7-vorms teken sodat hulle in aanhouding kan bly. Sonder die nodige handtekening, kan verhoorafwagtendes huis toe gestuur word.

Mthunzi Mhaga, woordvoerder vir die departement van justisie, het egter aan die Dispatch Online gesê die departement verwag dat samesprekings met landdroste tot oplossings sal lei.

Maak 'n opvolg-bydrae