Gauteng spog met vinnigste breëband

Slegs nege areas in Suid-Afrika het ‘n internetspoed hoër as die nasionale gemiddeld, volgens ‘n berig.

Beeld het Maandag berig Ookla se Net Index het aangedui dat die gemiddelde nasionale spoed vir breëband-internet 3,82 megagrepe per sekonde (Mbps) is.

Randfontein het die vinnigste breëbandttoegang in Suid-Afrika, met ‘n aflaaispoed van 11,3 mbps, gevolg deur Bryanston, Midrand en Randburg.

Die spoed is vasgestel met die hulp van plaaslike internetgebruikers, wat Ookla se webwerf en toepassing gebruik het om hulle internetspoed te toets.

Ookla het 1,7 miljoen breëbandgebruikers se spoed tussen 6 Februarie en verlede Donderdag altesaam 5,05 miljoen keer getoets. Altesaam 451 47 van die toetse is gebruik om die indeks saam te stel.

Slegs twee van die gebiede in die land met ‘n buitengewoon hoë aflaaispoed val buite Gauteng – Secunda in Mpumalanga (5,72 Mbps) en Worcester in die Wes-Kaap (3,84 Mbps).

Dié spoed is egter nog heelwat stadiger as wat in baie ander lande beskikbaar is. Vilnius in Litoue spog byvoorbeeld met ‘n spoed van 49 Mbps, terwyl HongKong ‘n spoed van 45,43 Mbps meet.

Maak 'n opvolg-bydrae