Jeugleiers vir die toekoms van SA

Daar is toekomshoop vir jong Afrikaanssprekendes in Suid-Afrika. Dit gaan egter nie op ‘n skinkbord aangedra word nie en die tyd het aangebreek om hande te vat, vernuwend te dink en saam te werk om vir die Afrikaner ‘n plek in sy geboorteland te waarborg.

Dit was die boodskap van dr. Pieter Mulder, leier van die Vryheidsfront Plus, aan studente van die Juventus-jeugvereniging in Pretoria. Juventis is ‘n instansie wat christelike leierskap en waardes onder Afrikaanssprekende jong mense bevorder.

Dr. Mulder het gesê die Afrikaner is by verre die minderheid in hul land van geboorte en nie net sy taal en kultuur nie, maar sy oorlewing is onder druk. Die realiteit is dat hy alle werklike politieke mag verloor het.

Die destydse Nasionale Party se onderhandelings-uitgangspunt was slegs die beskerming van individuele regte en geen grondregtelike waarborge is ingebou vir die beskerming van minderheidsgroepe nie.

Om hierdie redes het die tyd aangebreek dat veral jong Afrikaners moet soek na oplossings en daar is talle internasionale voorbeelde waar wel oplossings gevind kan word om minderheidsgroepe se voortbestaan en die handhawing van hul taal en kultuur te verseker.

“Die moderne tendens wêreldwyd is die erkenning van minderhede en hul regte. Lande soos Indië, Israel en Pakistan het onlangs selfs ministeries gestig om minderheidsgroepe se belange te behartig.

“Ons hoef nie die wiel van voor af te ontwerp nie, maar kan lesse leer van lande met soortgelyke probleme. Oplossings wat op ons van toepassing kan wees, kan ons oorneem en aanpas vir ons eie omstandighede.

“Die Afrikaner sal sy eie toekoms moet skep en kan nie sy hoop op die regering of ander groepe plaas om hom te red nie.

“Genoeg mense moet opstaan vir minderheids- en selfbeskikkingsregte en hulle uitspreek teen druk en verswelging van die meerderheid voordat ‘n regering aandag daaraan sal gee,” het dr. Mulder gesê.

Volgens hom is daar organisasies binne en buite die parlement nodig om druk op die regering te plaas. Dit sluit in ‘n politieke partye asook ‘n verskeidenheid burgerlike organisasies.

Dr. Mulder het verskeie voorbeelde genoem waar direkte gesprek op parlementêre vlak reeds ‘n belangrike bydrae tot die Afrikaner se saak gelewer het.

Hy het gewys op die belangrikheid om ‘n koalisie te vorm met ander opposisie politieke partye en om so deel te wees van ‘n koalisie wat ‘n verkiesing kan wen.

“Ons vra ‘n toekoms vir ons kinders en ‘n regverdige bedeling vir almal in die land. Om passief daarop te wag, gaan nie werk nie. Ons het nie ‘n keuse as om nederlae te gebruik as basis vir die bou van ‘n beter toekoms nie,” het dr. Mulder gesê.

Maak 'n opvolg-bydrae