Oscar dank beeldpoetser af

Die Paralimpiese atleet en moordverdagte Oscar Pistorius en sy familie het besluit om nie meer die dienste van die beeldpoetser te gebruik wat namens hom opgetree het nie, het ‘n berig Donderdag gelui.

Die maatskappy, Vuma Reputation Management, het egter volgens The New Age ontken dat die besluit verband hou net onlangse uitlatings van Pistorius se pa in ‘n onderhoud met ‘n Britse koerant. Henke Pistorius het in dié onderhoud gesê die ANC-regering doen nie genoeg om wit mense te beskerm nie.

“Absoluut nie, dit het niks te doen met die uitlatings nie. Ons is in die proses om alles aan die familie te oorhandig want ons kontrak met hulle was vir slegs twee weke,” het Lunice Johnson, woordvoerder vir die maatskappy, gesê.

Die maatskappy het ‘n dag ná die skietdood op 14 Februarie van Pistorius se vriendin, Reeva Steenkamp, begin om die atleet se sake in die media behartig.

Johnson het gesê hoewel die familie steeds in rou is, en hoewel Pistorius nog sukkel om te verwerk wat gebeur het, glo hulle die familie kan nou self medianavrae hanteer.

Maak 'n opvolg-bydrae