Kongolese wou DRK ‘binne 90 dae oorneem’

Die groep van 21 Kongolese mans wat aangekla word vir die beplanning van ‘n staatsgreep teen die regering van die Demokratiese Republiek van die Kongo het Maandag in die Pretoria Landdroshof waar die borgverhoor plaasvind, verskyn.

Staatsaanklaer Shaun Abrahamson het gesê lede van die groep behoort agter tralies gehou te word.

In die verklaring van die ondersoekbeampte, luitenant-kolonel Noel Zeeman, is talle redes vervat waarom borg geweier behoort te word, het Abrahamson gesê.

Hy het aan landdros Solly Mkhabela verduidelik dat daar 3000 rebelle binne-in die DRK ontplooi is en ‘n verdere 4000 mense in Rwanda en Uganda, sowel as lojale ondersteuners in ander buitelandse moondhede, insluitende die Verenigde State State, Kanada en Frankryk.

Lede van die rebelle-groep het ook aan die polisie-agente wat die groep geïnfiltreer het, vertel dat hulle die M23-groep in die Demokratiese Republiek van die Kongo as vyande beskou omdat hulle ondersteun word deur die Ugandese regering.

Die beweerde staatsgreepbeplanners is verlede maand in hegtenis geneem in ‘n klopjag op ‘n wildsplaas in Limpopo. Die arrestasies kom na ‘n ses-maande lange geheime operasie deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens se misdaad intelligensie teen-terrorisme-afdeling.

Abrahamson het aan die hof gesê die rebelle het nie belangestel in enige onderhandelinge met die regering van president Joseph Kabila nie en was vasbeslote dat die president in hegtenis geneem moet word en ​​verhoor word. “As hy deur ‘n dwaalkoeël getref word, laat dit so wees,” het die rebelle glo aan een van die agente gesê.

“‘n Volskaalse oorlog was hul enigste oplossing,” sê Abrahamson. “Hulle wou die DRK binne 90 dae oorneem.”

Abrahamson het gesê die rebelle het geweet waar ‘n arsenaal van wapens weggesteek lê in die Groot Mere-gebied en het te kenne gegee dat hulle toegang gehad het tot wapenopslagplekke van Viktor Bout.

Bout, ‘n Rus, is in 2012 in die Verenigde State tot 25 jaar tronkstraf veroordeel, ná sy skuldigbevinding op aanklagte van terrorisme na ‘n Amerikaanse lokvaloperasie.

Die berugte wapenhandelaar is ‘n paar jaar gelede deur Nicholas Cage in die Hollywood-film, Lord of War, gespeel. Alhoewel die produsente nooit amptelik erken het dat die film Bout se lewensverhaal uitbeeld nie, is dit algemene kennis.

Maak 'n opvolg-bydrae