Belaglike duur webwerf ondersoek

Die Vrystaatse provinsiale regering gaan vasstel of hy waarde vir sy geld gekry het in ‘n ooreenkoms vir sy multimiljoenrand-webwerf, het premier Ace Magashule Woensdag gesê.

Magashule het dié aankondiging Woensdag op ‘n sake-ontbyt gemaak.

Volgens berigte betaal die Vrystaatse regering R40 miljoen vir die ontwikkeling van ‘n regeringswebwerf.

Olley Mlamleli, LUR vir samewerkende regering, het op dieselfde geleentheid gesê die provinsie het R47 miljoen spandeer op die herontwerp en ontwikkeling van die 38 provinsiale regeringswebwerwe. Sy het gesê die ooreenkoms sluit in navorsing, ontwerp en ontwikkeling.

Die provinsie het gesê die projek, wat 38 webwerwe insluit, het R24 miljoen gekos in die 2011/12-boekjaar en sal R23,8 miljoen in die 2012/13-boekjaar kos.

Die Vrystaatse premier se departement het sowat R14,8 miljoen aan die projek bestee sedert dit in 2011 begin is.

Dít vorm deel van die R23,8 miljoen waarvoor daar in 2012/13 begroot is. Die provinsiale departement van samewerkende regering sal die res van die R23,8 miljoen betaal.

Twee van die maatskappye in die konsortium, Cherry Online Design en Ikamva, behoort aan die Bloemfonteinse sakeman Tumi Ntsele, eienaar van Letlaka Communications. Die maatskappye Jugganaut is die ander aandeelhouer in die konsortium.

Maak 'n opvolg-bydrae