‘Beesvleisprodukte’ in SA donkie, buffel, hoender

Voedselprodukte wat valslik as “beesvleis” gemerk is, word ook in Suid-Afrika verkoop.  ‘n Ondersoek deur wetenskaplikes van die Universiteit van Stellenbosch het aangetoon dat donkie-, bok- en buffelvleis gebruik word ipv bees.

“Die studie het getoon dat enigiets van soja, donkie-, bok- en waterbuffelvleis in 95 (68%) van die 139  maalvleise, hamburgers, deli-vleise, wors en gedroogde vleise wat getoets was, gevind is,” het die universiteit se studie bevind

Die studie, wat gedoen is deur dr. Donna-Maree Cawthorn en prof. Louw Hoffman van die universiteit se departement van veekundige wetenskappe, is in die internasionale Food Control-joernaal gepubliseer.

“Ons studie bevestig dat die verwerkte vleis wat verkeerdelik gemerk is, algemeen in Suid-Afrika is en nie net regulasies oor die etikettering van voedsel oortree nie, maar ook ekonomiese, godsdienstige, etiese en gesondheidsvraagstukke verontagsaam,” het Hoffman gesê.

Hoender en vark word algemeen aangetref in produkte wat nie veronderstel is om dit te bevat nie.

“Donkie, bok en waterbuffel is ook in ‘n aantal van die produkte gevind.”

Verskeie voorvalle is die afgelope ruk in Europa aangemeld waar perdevleis in voedselprodukte wat as beesvleis gemerk is, gevind is.

Perdevleis is in verskeie voedselprodukte soos in hamburgers, lasagne, pastasous, skooletes en selfs hospitaaletes in Europa opgespoor.

Maak 'n opvolg-bydrae