Kerkbode en Woordfees-debakel: Die groter prentjie

Die NG Kerk het veral die laaste vyf jaar baie “oop” begin raak teenoor mense wat anderse idees het oor die aard van die Goddelike, oor die Bybel as beweerde onfeilbare “Woord van God”; asook oor die lewe na die dood. Besorgde lidmate soos o.a. dr. Henriëtta Klaasing en dr. Hennie Mouton het onlangs hul kommer daaroor uitgespreek in die boek “Die Trojaanse Perd in die NG Kerk”. Dis veral die (gewese?) nuusredakteur van Die Kerkbode, Jean Oosthuizen, wat d.m.v. sy Kletskerk-webblad gepoog het om oop gesprekke te stimuleer met ateïste en ander vrydenkers. Prof. Julian Müller het met sy boek “Om te mag twyfel”, probeer om lidmate se aandag te vestig op ánder godsbeskouinge as die tradisionele beskouing aangaande die onoorbrugbare kloof tussen die Teïstiese (Persoonlike) God en Sy minderwaardige skepping. Prof. Müller is onlangs as dosent by die Teologiese Fakulteit van UP opgevolg deur die meer “behoudende” dr. Johann Meylahn. Baie NG Kerkleiers het dus vir baie jare Jean en Julian se “afvallige” idees verdra. Dit is dus insiggewend dat daar onlangs so drasties teenoor Jean opgetree is deur hom te skors en 10 minute kans te gee om sy kantoor te ontruim. Sedertdien was daar oor en weer beskuldigings tussen Jean en die bestuur van Die Kerkbode, in verband met wie ook al gelieg het oor die blad se beplande borgskap vir sekere gesprekke by die komende Woordfees te Stellenbosch.

Daar was heelwat onlangse woelinge in die Hervormde (NH) Kerk wat verband hou met sekere politiese besluite van die kerk oor die sg. sondige aard van Apartheid. Dit het aanleiding daartoe gegee dat sommige gemeentes weggebreek het van die NH Kerk en ʼn meer “behoudende” en pro-Apartheid “Bond van onafhanklike Hervormde Kerke” op 26 Januarie 2013 gestig het. Die NG Kerk het by monde van hul moderator, prof. Nelus Niemandt, onlangs die NH Kerk genader vir moontlike toekomstige eenwording tussen die twee kerke. Is hier ʼn poging om ʼn groter, meer regeringsgesinde Afrikaanse kerk tot stand te bring?

Beide die NG en NH Kerke het tydens hul sinodes in 2011 besluite geneem wat die destydse Apartheidsbeleid veroordeel het. In hierdie artikel het ek gewys op die “slim” manier waarop NG Kerkleiers te werk gegaan het om “progressiewe” besluite af te wissel met meer “behoudende” besluite. Progressiewe/liberale besluite soos o.a. die aanvaarding van die Belhar belydenis as moontlike vierde belydenisskrif en die keuse wat lidmate het tussen die geloof in die werklikheid of onwerklikheid van die Duiwel. Meer “behoudende” besluite soos o.a. die afkeur van gay huwelike en die besluit oor die groot doop. Dit is welbekend dat die Afrikaner Broederbond in die verlede ʼn geweldige invloed gehad het op heelwat besluite van sinodes. In die insiggewende DVD’s , “Die Vals Priesterdom: Vrymesselary onder SA Kerkleierskap”, word die jarelange invloed van Vrymesselary binne veral die NG Kerk van naderby bekyk. Kan dit wees dat die onlangse “Kerkbode en Woordfees” debakel deel is van ʼn groter politieke plan van die Vrymesselaar drukgroep binne die kerk? ʼn Plan om die Belhar belydenis op die ou end meer aanvaarbaar te maak vir “gewone” lidmate, sodat hulle dan meer gelate die regeringsbeleid t.o.v. veral toenemende grondhervorming sal aanvaar?

Die NG Kerk beplan om op 20 April 2013 ʼn Belhar-dagkonferensie te belê waarby die aanvaarding van die Belhar belydenis as vierde belydenisskrif meer indringend bespreek sal word, vóór hul Algemene Sinodesitting later hierdie jaar. Indien ortodokse (behoudende) lidmate daarna beswaar maak teen die aanvaarding, kan hul besware moontlik gesmoor word deur hulle daaraan te herinner dat die NG leierskap darem nie té “liberaal” of progressief is nie, juis omdat húlle die teologies “liberale” Jean Oosthuizen vroeër in die jaar geskors het..

[1] http://kerkbode.co.za/?p=2720

[1] http://www.praag.co.za/index.php/menings-magazine-196/briewe-magazine-230/10434-belhar-belydenis-gaan-blankes-verder-verdeel.html

[1] http://www.trumpetcall.co.za/dvds.php.

 

Maak 'n opvolg-bydrae