Die Vryheidsfront Plus verwelkom die Solidariteitbeweging se ondersteuning van sy veldtog vir belastingaftrekkings vir sekuriteitskoste deur individue.
Die Vryheidsfront Plus het reeds in 2008 ‘n privatelid-wetsontwerp by die Parlement ingedien waarin voorgestel word dat individue se gelde wat spandeer word vir beveiliging en sekuriteit van hulle woonhuise, van hul belasting afgetrek kan word.
Die wetsontwerp stel ‘n wysiging voor van die Inkomstebelastingwet. “Na die Grondwethof se uitspraak oor privatelid-wetsontwerpe sal die Vryheidsfront Plus die private wet weer indien,” sê mnr. Pieter Groenewald (LP) hoofwoordvoerder van Polisie vir die Vryheidsfront Plus.
“Die staat het ‘n grondwetlike plig om sy burgers teen misdaad te beskerm en daarom betaal mense belasting. Vanweë die staat se onvermoë om gewone landsburgers te
beskerm, gaan privaat individue tans groot kostes aan vir selfbeveiliging. Die minste wat die regering kan doen is om hiervoor belastingverligting te gee,” sê Groenewald.
“Die VF Plus beywer hom lank reeds vir belastingverligting en het in samewerking met die Nasionale Burgerlike Veiligheid- en Sekuriteitsaksie (NABUVSA) destyds die voorgestelde wetsontwerp opgestel. Hierdie aftrekkings sal nie die fiskus onder druk plaas nie,” het Groenewald gesê.
