Die ANC het verlede jaar by sy verkiesingskonferensie in Mangaung ‘n resolusie aanvaar om ‘n belasting op gegradueerdes in te stel, het die Sowetan Donderdag berig.
Afgevaardigdes in die onderwys- en gesondheidskommissie het besluit dat oorweging “gegee moet word aan ‘n belasting vir alle gegradueerdes van hoër onderwysinstellings”.
Inligting oor die voorgenome belasting is vaag, en geen detail is gegee oor wanneer dit geïmplenteer gaan word of die persentasie wat gehef sal word nie.
Themba Masondo, sekretaris-generaal van die South African Students’ Congress (Sasco), wat deel was van die onderwyskommissie, het die ooreenkoms oor die belasting bevestig. Hy het aan die koerant gesê Sasco is gekant daarteen.
“As ‘n organisasie het ons ‘n aantal kwessies geopper oor die belasting. Hulle is nie so duidelik oor hoe dit gaan werk nie.”
Masondo is egter ten gunste van ‘n algemene heffing, waar mense uit hoë inkomstegroepe meer betaal.
Luidens die ANC se resolusies is die doel van die belasting om die koffers van die Nasionale Studente Finansiële Hulpskema (NSFAS) aan te vul. Dié hulpskema sal na verwagting ‘n groot rol speel in die regering se planne om gratis opvoeding aan alle voorgraadse studente te bied.
Gratis opvoeding sal waarskynlik vanaf volgende jaar ingestel word.
