‘n Ma van twee, wat die afgelope naweek saam met haar gesin na Welkom verhuis het, is Donderdag helder oordag grusaam in haar huis op die dorp vermoor, berig Volksblad.
Carmen van der Westhuizen (38) was waarskynlik besig om uit te pak toe sy in die kombuis oorval is.
Haar kop is met vermoedelik ‘n byl of panga oopgekloof en haar keel gesny.
Haar man, Pieter, wat op haar lyk in die kombuis afgekom het, het buite die moordhuis geskok gesê hy is dankbaar dat hy sy twee kinders, Dylan (8) en Minette (9), in die bakkie laat wag het toe hy gaan ondersoek instel het.
Die egpaar het van Delareyville vir Pieter se werk na Welkom verhuis. Die twee kinders het Woensdag hul eerste skooldag by Laerskool Koppie Alleen in Riebeeckstad begin.
Die polisie het Donderdagmiddag die hond wat menslike vloeistof uitruik van hul K9-eenheid op Kroonstad laat kom om met die ondersoek te help.
Daar is teen Donderdagmiddag laat reeds ‘n verdagte geïdentifiseer en daar is wyd na hom gesoek.
